Teken In
Blog
Lede Bydraes
Teken In
Blog
Lede Bydraes

(+27) 072 2360777

Welkom by ons Webjoernaal

Is lees belangrik?

Is lees belangrik?

Hoekom moet kinders boeke lees?

En hoekom moet onnies in die klas steeds boeke voorlees? Hoekom begroot vir lekkerleesboeke? 

Hier is die rede: ‘N STORIEBOEK MAAK DIE VERSKIL!


1. In Brittanje word gepraat van The home literacy event, wat ons slaaptydstories noem. Kinders vir wie van kleins af voorgelees word, uitpresteer hul maats vir wie nie voorgelees word nie. Studies van die London University bewys dat kinders wat tuis met hul ouers lees, beter luister en langer konsentreer. Vir al die kinders wat nooit hierdie voorreg gehad het nie, is jy die onderwyser wat vir hulle voorlees. Span gerus ook oudioboeke in. Storieboeke maak die verskil!


2. Ouers wat vir hul kinders in die voorskoolse jare elke dag ‘n storie lees, stuur hul kind graad 1 toe met tot EEN MILJOEN meer woorde as diegene vir wie nooit stories gelees word nie (studie Univ Ohio, 2019). Dis die sogenaamde MILLION WORD GAP wat wêreldwyd die voorspeller van akademiese vordering is. Woordeskat is een van die mees bepalende faktore vir akademiese sukses (prof Maryanne Wolf, Univ Tufts). Storieboeke kan op hoërskool steeds ‘n verskil maak, want as tieners lekker lees, gaan hulle méér lees.


3. ‘n Slaaptydstorie is belangrik as die tiener deur die dag voor ‘n skerm was, soos televisie, selfoon of rekenaar. Hoekom? Die skerms aktiveer die frontale lobbe van die brein. Voorlees kalmeer die frontale lobbe, wat ook die res van die brein gereed maak vir slaap. Die slaaphormone word dan afgeskei wat REM (droomslaap) vinniger laat inskop. Tydens slaap vind groei en selvernuwing plaas en word nuwe sinapse in die brein gevorm. Goeie kwaliteit slaap is dus noodsaaklik vir algemene gesondheid. ‘n Voorgeleesde slaaptydstorie vir enige kind, van 3 tot 18, is dus soos ‘n natuurlike slaappil en breinaktiveerder. Dus: geen skerms voor slaaptyd nie! Dis ‘n oudioboek, of ‘n voorgeleesde storieboek, is wat die verskil kan maak.

 

4. ‘n Lekker boek is vir die tiener se breingesondheid belangrik. Dit kan selfs die brein van skermverslawing red. Wanneer mens ‘n rekenaarspeletjie speel, word die linkerbrein volledig gestimuleer. Eintlik OORgestimuleer. Daar moet vinnige besluite geneem word, strategie uitgewerk word. Maar die regterbrein word afgeskeep. En dis hier waar luistervaardighede en empatie gesetel is. Die rugbyreël geld hier: use it or lose it. As die regterbrein nie gebruik word nie, sterf die sinapse af. Maak dit dus ‘n reël: vir elke halfuur se rekenaarspeletjies, moet die kind ‘n bladsy lees en gou bietjie fisiese oefening doen. Dit sal die regterbrein weer aktiveer. ‘n Storieboek kan die verskil maak en jou red van digitale demensie.


5. ‘n Lekker boek kan ook jou wiskundepunte verbeter. Hoe so? Die Ohio State University het in 2015 ‘n reuse studie gedoen tussen leesbegrip en wiskundepunt. Daar is ‘n direkte verband! Hoe beter die kind lees en verstaan, hoe beter die wiskundepunte. Dis weereens ‘n storieboek wat die verskil maak.


6. ‘n Lekker boek voordat jy gaan slaap, kan jou toetspunt die volgende dag verbeter. Dit is die bevinding van prof Gregory Burns en sy span van die Emory Universiteit, Atlanta. In ‘n groot studie is studente in twee groepe verdeel: Groep A het studeer totdat hulle gaan slaap het. Groep B moes ‘n lekkerlees boek lees voor slaaptyd. En tada! Groep B het deur die bank beter presteer. Redes: dieper slaap en minder stres laat die brein beter prosesseer, sodat die studiemateriaal makliker opgeroep word. En ja, dis weer ‘n storieboek wat die verskil maak.


7. Lekker boeke laat jou vinniger lees. As jy vinniger lees gaan jy beter studeer. Niemand leer beter lees met ‘n vervelige boek nie. Meisies is oor die algemeen beter lesers as seuns, net omdat hulle meer lees. Moet dus nie ‘n lekker romanse onderskat nie. Hoe vinniger jy lees om by die soen aan die einde uit te kom, hoe vinniger prosesseer jou brein. Dis breingimnastiek! Dus maak ‘n storieboek weereens die verskil. 


8. Laastens, ‘n storieboek is wonderlik vir ‘n tiener se geestesgesondheid. Die keuse van boeke is dus uiters belangrik. Klein kinders assosieer só sterk met die held van ‘n storie, dat MRI skanderings wys hoe hierdie kleuters se brein dieselfde reaksies toon as die hoofkarakter. Dit werk presies so met tieners! As hul held dan ‘n struikelblok oorwin, is dit so goed asof hulle dit self gedoen het. “Stories shape our lives and in some cases help define a person,”sê die psigiater, dr Christopher Bergland (Psychology Today, 2013-11-03). Tieners wat lees, is tieners wat hulle probleme so lees-lees self uitsorteer. Of ten minste groot troos vind dat daar ander kinders nes hulle is.

Onthou dat ‘n boek soos medisyne kan wees: ons noem dit biblioterapie. Sorg dat jou kind ‘n groot dosis grootwordboeke inkry voordat die grootmenslewe aanbreek. Storieboeke kan die verskil maak.

Onderwysers: julle het ‘n geweldige verantwoordelikheid. Wat julle voorlees, wat julle kies as voorgeskrewe boeke, wat julle aanbeveel, kan letterlik ‘n kind se lewenskoers bepaal. Dit kan selfs ‘n lewe red.


Christien Neser


BA(Log) Pret. HONS (French) Unisa MA (Ling) UJ

Webwerf: www.christienneser.com

[email protected]


Instituut vir Christelike Onderwys


Al ons nuus op een plek
Vereiste veld!
Vereiste veld!

KOPIEREG © 2024. Alle Regte Voorbehou. 

Webtuiste deur: Cloudstream Funnels

Jou mandjie is leeg Gaan voort
Inkopie Mandjie
Subtotaal:
Afslag 
Afslag 
Sien Besonderhede
- +
Uitverkoop